"Ek weet waar ek is"...ego's in die maag van 'n walvis Dis 'n mal twis in my binneste... weet ek wie ek is? Die vraag wat herhaal maar die woorde vorm hehaaldelik in 'n ander taal Iemand anders se tong vorm die suurstof uit my longe In klanke soos borrelende bloed wat nie myne is nie Nie heeltemal by en bewus nie: ek sluimer deur die suiwerste diefstal 'N huiwerende geraamte sonder vlees, geïsoleer deur die vrees Rondom wie ek veronderstel is om te wees Dis diep, maar nie genoeg nie, soos 'n soen met niks spoeg nie Vir lank het ek gedink geskiedenis forseer my om verleë te reageer En ek beweer nog steeds daai diepste seer leer my van weer probeer My oupagrootjie is in Ceylon oorlede, moontlik St. Helena 'N romantiese prentjie van 'n soldaat langs sy geweer Van sy familie weggeskeur, maar hoe kan ek ooit regtig verstaan wat gebeur het Eer die Vyf Swemmers se volharding en moed Maar verstaan ek hulle regtig al dra ek hulle bloed? Ek het my oupa se name, hy was 'n dominee Sy kerk gelos, nie met apartheid saamgestem nie En in my hart is hy 'n held, op sy eie manier 'n pad gekies van weerstand sonder geweld En ek het rede om trots te wees, verstaan my nou mooi Maar as ek partykeer na my mense kyk wil ek dit alles net weggooi Wat het ons geword? 'n horde verneukers wat kla en alles blameer behalwe onsself Miskien is die skuld regtig al te diep ingedelf, en ek weet ek is dieselfde 'N skynheilige stem wat saamswem in die modder Maar goeie donner ek sien nie meer een positiewe gedagte hier onder nie "Blanke skaamte, jy weet nie wat jy doen, jy breek af aan alles wat ons versoen" 'N bouer se woorde, en my hande wil ook bou Ek dink nou baie ernstig oor wat ek laat gaan en wat ek vashou Behou my volk as die enigste wit Afrikastam, in 'n Groter Plan, ek glo dit vuur en vlam As jy haat tussen die lyne hoor dan luister jy nie reg nie Dis 'n stryd vir identiteit, nie 'n letterlike geveg nie Ek praat van harte wat foute en mislukkings kan insluk En selfs as die einde bitter lyk, gaan ek omdraai of deurdruk?